Wanneer ons hierdie jaar Pinkster vier, dan vier ons die uitstorting, doping, en vervulling met Heilige Gees, vir die werk waarvoor Jesus ons geroep het – om mense eerstehands van Hom te vertel. Verder, omhels ons roeping ook, om ons gawes aan te wend tot opbou van ons medechristen boeties en sussies in die Here.
Joël 2:28 (NLV) “Nadat ek die reën gegee het, sal ek My Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle ou mense sal drome droom. Jongmense sal visioene sien.”
Pinkster laat my onwillekeurig dink aan ‘n droom wat ek jare terug gehad het oor Basileia en Heilige Gees. Kom ek vertel jou daarvan. In my droom het ‘n klomp van ons ‘n diens gaan bywoon in Universiteitsoord gemeente in Pretoria. Die gebou het ‘n middelste ingang en dan is die kansel voor jou, met die kerk weerskante van die ingang na voor en agter. Ons het almal so links agter en bo gesit. Die diens was net aan die gang, toe ‘n sterk wind die ingangsdeure oopwaai, en ‘n helder ligbal die kerkgebou inbeweeg.
Chaos het uitgebreek en daar was paniek in die kerk. Die ligbal het begin rondbeweeg en mense het uit vrees die kerk begin verlaat. Ek het egter opgestaan en vir Basileia mense gesê: “Moenie bang wees nie, dit is die Heilige Gees, en Vader wil ons doop met Sy Gees. Ons moet nie weghardloop nie, maar bly sit en wag.” Die ligbal het by die mense wat net wou uitkom verbybeweeg en opbeweeg na waar ons gesit het. Daar het Hy so by elkeen van ons ‘n oomblik tot stilstand gekom, en ons kon met ons hande so aan en deur Hom raak.
Die hele tyd het ek bly sê dat niemand hoef bang te wees nie, en dat dit die Heilige Gees is en dat Vader ons kom doop met Sy Gees. Skielik was Hy weg en net ons groep het in die kerk agtergebly. Daar was groot vreugde onder ons. Toe herhaal die droom homself net vanuit ‘n ander hoek, asof Vader wou bevestig wat daar gebeur het.
Ons glo in die Heilige Gees. Ons glo aan die bekragtiging, die vervulling en die doop met Heilige Gees. Dit is God se spesiale geskenk aan ons, sodat ons nie bediening in ons eie krag hoef te doen nie. Daarom sê ons visie – Ons Lewe GEESVERVULD …. Kom ons lewe Geesvervuld, kom ons vat God op Sy Woord dat elkeen wat vra en wag, met die Heilige Gees gedoop sal word, sodat ons Sy getuies in hierdie verloregaande wêreld kan wees.
Ons is ‘n gemeente wat glo in die gawes van Heilige Gees – elkeen van hulle sonder uitsondering. Wat ons nou ervaar is jare gelede al in ‘n droom voorspel en ons beleef nou opnuut die vervulling daarvan.
Dit is PINKSTER.