Bedienings
NA BO
Ons as gemeente, wil ‘n familie wees wat God drie-enig vereer, deur gebed, eredienste en ons sangbediening
GEBEDSBEDIENING & KAPEL
Die Doel van die Bediening.
Gebed vorm die basis van enige bediening en aktiwiteit in ons gemeente.
Gebed moet alles “marineer.” Tydens ons gebedsgeleenthede is daar die verwagting van ’n werklike ontmoeting deur Heilige Gees, met Vader en Jesus.
By die gebedsbediening word die verskeidenheid van gebedsgeleenthede van die gemeente beplan en geskeduleer. Verder word vanuit die bediening ook geskakel met ander gebedsinisiatiewe in ons eie stad, provinsie en landswyd. Ons reël ook gebedstoerustingsgeleenthede.
Gebedsaktiwiteite
Weekliks: ‘n Gebedsgroep kom by ons Kapel elke Donderdagoggend bymekaar, vanaf 06:00-06:45, met veral ’n stadsfokus.
Jaarliks word ’n week van gebed aangebied. Daar is ‘n gebedsslot tydens eredienste en daar word tydens lofsang vir persone wat vorentoe kom, gebid deur hierdie bediening.
Gebedsversoeke
Versoeke kan aan Pierré Booysen of Irma Sparkham deurgegee word.
Dit word dan aan lede van ’n gebedsketting gestuur wat intensief daarvoor intree.
Raak Betrokke
Daar het ook WhatsApp gebedsgroepe ontstaan wat baie effektief funksioneer.
Indien jy deel daarvan wil wees kontak gerus vir Pierré Booysen. Het jy gebed nodig? Vul die vorm in en stuur dit aan ons.
Kontakpersone
Pierré Booysen – 072 436 1033 Irma Sparkham – 082 453 1221
Het jy gebed nodig? Vul die vorm in en stuur dit aan ons.
EREDIENSTE / AANLYNEREDIENSTE
Doel van die Bediening
Ons eredienste fokus sentraal op die woord, lof en aanbidding, en bediening van mekaar. Ons het ‘n gemaklike manier van kerkwees en probeer om dit so in te rig dat almal iewers tuis sal voel.
Ons glo in die saamkom van gelowiges en daarom is ons dienste in die kerkgebou ons primêre fokus, maar ons bied ook ‘n verskeidenheid van ander platforms en maniere waarop jy in ons eredienste kan deel.
Maak seker dat jy aan een van ons WhatsApp groepe behoort, sodat jy al die digitale skakels vir die dienste kan ontvang.
Eredienstye
Instapdiens in ons kerkgebou: Sondagoggend – 08:30
Aanlyndiens: Facebook en Youtube – 08:30
Kleuter/Kinder & Tienerbedieningstye
Kleuterbediening (3 – 6 jaar)
Sondagoggend: 8h30 – Voor diens na die kleuterlokaal
Kinderbediening (Graad 1 – 6)
Sondagoggend: 8h30 – Eers in die diens, en dan uit na die saal
Tienerbediening (Graad 7 – 11)
Sondagmiddag: 16h00 tot 18h00 – In die koffiekamer
SANGBEDIENING
Doel van die Bediening
Die hoofdoel is die bediening van lof en aanbidding tydens eredienste. Die gemeente word op verskillende wyses gelei in sang. Sommige speel instrumente, ander sing en ander lei die lof en aanbidding.
Die gemeente word hierdeur ook aan nuwe liedere voorgestel. Die sang bediening neem ook die aktiewe rol tydens die jaarlikse kers sangdiens, tensy anders gereël.
Samestelling van die Bediening
Die bediening word saamgestel deur die volgende:
• Sangers • Musikante
• Lof en aanbidding leiers
Die hele sang bediening oefen elke Donderdagaand van 18h00 – 20h00.
Hoe om Betrokke te Raak
Om musiek te kan maak of te kan sing is ’n wonderlike voorreg. Die moontlikhede van hierdie bediening is eindeloos. As hierdie bediening vir jou is, word jy uitgenooi om, as deel van die groep, deel te word van ’n wonderlike reis. Kontak gerus die bedienings leier.
Kontakpersoon
Elma Nel – 083 234 8049
BEDIENINGS
GOD
NA BINNE
Ons Na Binne bedieninge is een van die pilare waarop ons visie staan. Ons gemeente wil as Liggaam van Christus vir mekaar omgee en mekaar versorg. Ons versorg Na Binne deur onderlinge liefde te leef, soos 1 Korinthiers 13. Ons kom saam in familiegroepe, bybelstudiegroepe, en dissipelskapgroepe. Ons versorg swakkes en siekes, en sien om na die welstand van huwelike en gesinne. Die bedieninge wat nou volg val almal onder die Na Binne van ons visie.
Bybelstudiegroepe
Doel van die Bediening
Elke een kan baat vind by bybelstudie. Die bybel vorm die rigsnoer vir ons lewens en daar bestaan verskeie bybelstudiegroepe in die gemeente.
Hoe om Deel te Word van die Groep
Enige persoon in ons gemeente wat graag by so ’n groep wil inskakel is baie welkom.
Kontak gerus enigeen van die leraars, wat graag sal ondersteun. Indien jy ‘n nuwe bybelstudiegroep wil begin, kontak een van die kontakpersone.
Kontakbesonderhede
Ds. Marius Nel – 0823277425 Ds. Louis Cloete – 0845128207 Douha Kemp – 0827806813 (Seniors) Alida Nieuwoudt – 061 970 6856 (Seniors)
super seniors
“Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red”. (Jesaja 46:4)
Basileia Gemeente is ‘n gemeente waar daar per geleentheid op ‘n Sondag, vier generasies in die erediens verteenwoordig is. Ons glo dat ‘n effektiewe bybelse gemeente nie net uit een generasie kan bestaan nie.
Die generasie wat al ouer geword het, en onder die 100 jaar ouderdomsgroep val, is vir ons geweldig belangrik. Met ons spiritualiteit wat divers is, doen ons moeite om ook vir hierdie ouderdomsgroep in ons gemeente ‘n tuiste te skep. Op baie terreine is ons ‘onder 100-ders’ vir ons ‘n voorbeeld, met hulle vaste geloof, stewige waardes, respek en ontsag vir God, wat kosbare bakens is op enige geloofsreis.
Die ‘onder-100 jaar’ groep in ons gemeente kom kwaartaaliks op ‘n Donderdag en weekliks op‘n Woensdag in groepe. Verder vergader hulle weekliks in groepe waarin hulle geestelik groei en vir mekaar omgee.
Ons leuse is ‘Aktief Oudword’ en elkeen word aangemoedig om so aktief te wees as wat hulle liggame hulle toelaat.
Ons uitdaging is om geestelik te groei en om ons getalle aan te vul. Ons droom is om dié wat nie meer vandag se kinders is, maar nog nie oud voel, ook by ons te help inskakel.
Kontakbesonderhede
Ds. Marius Nel – 082 327 7425 Douha Kemp – 082 780 6813
Mannebediening
Die Doel van die Bediening
Om die manne in die gemeente te begelei dat hulle al hoe meer die beeld van Christus sal vertoon.
Aktiwiteite van die Bediening
Daar word jaarliks ‘n mannekamp gehou, hou gerus die almanak dop, asook die afkondiginge in die kerk vir die waar en wanneer. Daar word ook van tyd tot tyd ‘een-dag-retreats’ gehou, en verder is daar dissipelskapgroepe, waar ons mans vroegoggende bymekaarkom. Hier word dan ’n bybelboek bespreek of die boek van die groep se keuse.
Hoe om Deel te Word As lidmaat van die gemeente is jy welkom om betrokke te wees by die bediening, Indien jy deel wil vorm van die werkgroep wat die mansaktiwiteite beplan, kontak gerus die persone hieronder.
Kontakbesonderhede
Ds. Louis Cloete – 084 512 8207
Kleuter- en Kinderbediening (3 jaar – Graad R & Kinders Graad 1 – Graad 6)
Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kinders en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” (Matteus 19:14)
Die Doel en Aktiwiteite van die Bediening Kinders was, is en sal altyd, ‘n groot prioriteit en fokus in ons gemeente bly.
Die kinderbediening in Basileia Gemeente val nie rond agter elke suksesverhaal nie, maar werk met ‘n duidelike plan en met een doel voor oë, naamlik die effektiewe holistiese bediening van die kind.
Dit vind elke Sondagoggend – skoolvakansies en langnaweke uitgesluit – gelyktydig met die erediens in die saal en koffiekamer plaas.
Ons teikengroep by die kleuter-en-kinderbediening is die kinders van 3 jaar tot Graad 6. Ons het nie meer tradisionele “Sondagskool” nie, maar verdeel in ontwikkelingsfases vir kinderkerk en kleingroepe daarna terwyl die volwassenes in die kerkgebou vergader.
Hoe om Betrokke te Raak • Grootgroepaanbieders, wat verantwoordelik vir die preekbeurt vir die kinders.
• Multimedia en klank hulp, wat persone verantwoordelik vir die multimedia en klank.
• Groepleiers wat ons kleingroepbesprekings hanteer wat by die kinder-erediens plaasvind.
• Administratiewe beamptes wat help met die administrasie van die kinderkerk.
• Musiekbediening wat die kinders begelei met sang en musiek.
Kontakbesonderhede
Ds. Marius Nel – 082 327 7425
Belydenisjaar (Graad 11)
Hierdie vorm die hoogtepunt van ons tienerbediening oor die jare.
Daar word baie spesiale moeite gedoen met die kinders. Ons skop die jaar af met ‘n kamp en doen die Kairos kursus wat handel oor hoe God die wêreld sien en wat Sy plan is.
In die Oktober gaan ons in die skoolvakansie op ‘n kruiskulturele uitreik om die kinders te laat ervaar wat ons in die kursus gedoen het. Dit is ‘n opwindende jaar vir die kinders en vir ons as begeleiers.
Indien jy aan die einde van jou kind se Gr 10 skooljaar, wil hê jou kind moet sy of haar Belydenisjaar (Gr 11 jaar) doen by Basileia Gemeente, vul gerus die vorm in en stuur dit vir ons.
Kontakbesonderhede
Ds. Louis Cloete – 084 512 8207 Basileia Gemeente Kerkkantoor – 013 697 4449
Tienerbediening (Graad 7 – Graad 10)
Doel van die Bediening
Ons doel is om tieners op so ’n geestelike vlak te bereik dat hulle nie kan ‘NEE’ sê vir Jesus nie. Ons vat hulle terug na die basiese beginsels.
Samestelling van die Bediening
Daar is ’n bedieningsleier en groepleiers. Die groepleiers hanteer elkeen ’n groepie tieners en die beplanning is, dat as jy met ’n Graad 7 groep begin, en dit is vir jou enigsins moontlik, dat jy hulle deurvat tot hulle belydenisjaar.
Funksionering van die Bediening
Die jeugbyeenkoms vind Sondaemiddae om 16:00 plaas en daar is kleingroepbesprekings tot en met 18h00.
Daar is ook jeugkampe deur die jaar, wat op ons kalender aangemerk sal wees en ook in ons eredienste afgekondig word. Die jeug is vir ons in Basileia Gemeente ’n wesenlike deel van die gemeente.
Hoe om Betrokke te Raak
’n Passie om met tieners te werk is ’n vereiste. maar die heel belangrikste is, dat jy wat met die tieners werk, ’n lewende verhouding met God moet hê.
Indien die Here dit op jou hart lê om betrokke te raak, kan die bedieningsleier of die leraar gekontak word.
Jy word dan by ’n jeuggroep ingedeel en jy word hulle geestelike mentor vir die tyd wat jy by hulle betrokke is. Dit is ook jou verantwoordelikheid om in die week met jou kleingroeplede kontak te behou.
Kontakbesonderhede
Ds. Louis Cloete – 084 512 8207
Begrafnisse & Muur van Herinnering
In hierdie moeilike tyd wil ons as gemeente graag ‘n hand na jou uitreik en ‘n paar treë op hierdie pad saam met jou stap.
Wanneer jy in hierdie verband hulp benodig kan jy die predikant van jou keuse self kontak of met die kerkkantoor skakel vir hulp in hierdie verband. Die begrafnisondernemer van jou keuse sal jou ook in hierdie verband behulpsaam kan wees.
Ons het ook ‘n veilige en toeganklike Muur van Herinnering, waar die as van jou geliefde, veilig op die kerkterrein bewaar kan word. Indien jy enige inligting in hierdie verband benodig voltooi die vorm en stuur dit aan ons.
Kontakbesonderhede
Ds. Marius Nel – 082 327 7425 Ds. Louis Cloete – 084 512 8207 Basileia Gemeente Kerkkantoor – 013 697 4449
Gasvryheid
Doel van die Bediening
Gasvryheidsbediening – ontvangs.
Die doel van hierdie bediening is om die opdrag van die Here Jesus in 1 Petr.4:9 te verwesenlik: “wees gasvry onder mekaar sonder om te kla.” (ou Vertaling). Die lede van die bediening beman die deure voor die aanvangs van die erediens en verwelkom almal wat opdaag. Ons doel is om die vriendelikste en gasvryste gemeente in die land te wees. Na die oggenddienste drink ons saam koffie en eet lekker tuisgebakte brood. Covid maak dit op die oomblik bietjie anders, maar ons sal weer die normale doen wanneer ons kan.
Romeine 12:13 “…en lê julle toe op gasvryheid…”
Kontakbesonderhede:
Phildi van Venrooy – 082 898 8861
Omgee, Nasorg & Siekebesoek
Doel van die Bediening
Getrou aan ons visie gee ons ook geesvervuld na binne vir mekaar om. Ons huil saam en lag saam mekaar. Hierdie bediening fokus daarop om kontak te maak en besoeke te doen by persone wat deur predikante besoek is – veral siekte. Opvolg vind plaas dmv oproepe, ‘n WhatsApp of besoeke. Dit word weekliks bestuur vanuit die kerkkantoor.
Hoe om betrokke te raak
Enigeen met ’n passie vir omgee, opvolg en versorging van siekes is welkom. Indien jy self omgee, nasorg of siekebesoek verlang of ingaan vir ‘n operasie, klik asb op die skakel wat jou na die omgee vorm sal neem. Vul dit in en stuur dit aan ons.
Kontakbesonderhede
Basileia Gemeente Kerkkantoor – 013 697 4449
Huweliksvoorbereiding
asileia Gemeente glo in die huwelik as ’n instelling van God en daarom wil ons nie ligtelik daarmee handel nie. Om te trou is nie moeilik nie, maar om gelukkig getroud te wees, is dikwels ‘n groter uitdaging. Hierdie bediening help julle as paartjie om goed af te skop en met ‘n paar Bybelse beginsels hierdie reis aan te pak. Ons maak gebruik van ‘n DVD-reeks vir hierdie voorbereiding. Julle werk hierdie DVD’s eers alleen deur en kontak dan jou predikant van voorkeur as julle klaar is om dan met julle daaroor saam te gesels.
Wat maak ek as ek wil trou?
Kontak die spesifieke predikant wat jy wil hê jou huwelik moet bevestig. Voltooi die huweliksvorm en stuur dit aan ons.
Kontakbesonderhede
Ds. Louis Cloete – 084 512 8207 Ds. Marius Nel – 082 327 7425
Kerkkantoor
013-697 4449 (Weeksdae 08h00-12h00)
– Voltooi die huweliksvorm en stuur dit aan ons.
Kontakpersone:
Ds. Louis 084 512 8207 of Ds. Marius 082 327 7425
Kerkkantoor:
013-697 4449 (Weeksdae 08h00-12h00)
Vrouebediening / Vrouetee / Vrouekampe
Klipfontein, Basileia sussie hier is ‘n paar plekke waar jy kan deel word van die hartklop van die gemeente. Elma Nel nooi julle uit om ons en al die ander sussies van die gemeente te kom leer ken en om saam te kom werk en groei.
Vrouetee
Elke jaar word ‘n bekende persoon gevra om die dames toe te spreek op ‘n Saterdagmiddag. Gewoonlik in Maart, maar hou die afkondiginge dop.
Vrouekamp
Ons kamp feestelik saam een keer per jaar. Hou die almanak dop en moet dit nooit mis nie. Hier maak ons regtig vriende met mekaar en geniet die eenheid en liefde wat die Here vir ons bedoel het. As jy wil help met kampe , meld aan! Saamkom is nie ‘n opsie nie, want ons wil jou so graag leer ken. Ons sien uit om jou daar te sien die jaar!
Kontakbesonderhede:
Elma Nel – 083 234 8049
Terrein & Geboue
Doel van die bediening
Die Here het aan ons gemeente baie goeie doelmatige geboue gegee. Ons moet hierdie geboue goed oppas en versorg ook vir die geslagte na ons wat hierdie geboue gaan gebruik.
Die kerkraad strewe daarna om altyd genoeg fondse daar te stel om die geboue goed te versorg. Dit is die passie van die bediening om juis dit te doen en uit te voer.
Hoe om betrokke te raak
Indien geboue en die instandhouding daarvan vir jou belangrik is, wil ons jou graag betrek.
Kontakbesonderhede:
Basileia Gemeente Kerkkantoor – 013 697 4449
Indien jy van ons geboue / lokale gebruik wil maak voltooi die vorm en stuur dit vir ons.
DoopvoorbereidinG
Die doop van jou kind is vir ons ‘n baie spesiale en betekenisvolle geleentheid. In die lig hiervan spandeer ons baie tyd aan die voorbereiding van jou as ouer.
By vier geleenthede gesels ons lekker saam oor die betekenis van die verbond wat God met jou kind sluit, jou eie doop en die betekenis daarvan vir jou.
Verder gesels ons oor hoe ‘n mens op hierdie verbond antwoord en hoe julle as ouers julle kind hierin kan begelei. Hierdie voorbereiding vind twee keer ‘n jaar oor vier weke plaas.
Jy kan een van die twee geleenthede kies en die voorbereiding is vir twee jaar geldig. Februarie en Augustus op Woensdagaande – 18h30-20h00
Voltooi en stuur die Doopvoorbereidingsvorm aan ons.
NA BUITE
Sending
Doel van die Bediening
Die sendingwerksgroep streef daarna om na bo, na binne en na buite, ons visie uit te leef. Na bo, vertrou ons op die Here vir wysheid en insig om ons take uit te voer en om Hom te behaag. Somtyds kos dit ons om ons eie idees eenkant toe te skuif en ruimte in ons harte te maak vir iets anders.
Na binne is dit ons oortuiging om die gemeente meer betrokke te kry, nie net by die Geloofsoffer nie, maar ook by projekte, uitreike en met die sendelinge persoonlik.
Na buite, poog ons om betrokke te raak by evangelisasie projekte asook sendeling ondersteuning in die buiteland, veral onder onbereikte mensegroepe.
Die Geloofsoffer is ‘n integrale deel van die sendingwerksgroep se aktiwiteite. Die toedeling van finansies aan sendelinge en die besteding van die oorblywende finansies aan behoeftes, projekte en uitreike. Die Geloofsoffer word jaarliks hernu, maar enige iemand kan enige tyd betrokke raak. ‘n Persoon hoor by die Here hoeveel hy/sy die Here moet vertrou om ‘n maandelikse ooreenkoms met Hom aan te gaan.
Die sendingwerksgroep kontroleer nie die inbetalings nie en dus word niemand aangemaan oor of hy inbetaal of nie. Dit is totaal tussen die individu en die Here.
Ons gebruik slegs die syfers om ‘n begroting te kan opstel.
Hoe om Betrokke te Raak
Ons sien almal in die gemeente as deel van hierdie bediening, want ons glo dat ons nie mag bestaan as ons nie ‘n sendinghart vertoon nie. Enige behoefte of betrokkenheid word tydens eredienste aan gemeentelede bekend gemaak. Waar Heilige Gees met jou praat om betrokke te raak, wees gehoorsaam en doen dit.
As jy graag deel van die werkgroep wil wees waar die beplanning van die sendingwerkgroep gedoen word, skakel enigeen van die onderstaande persone.
Om betrokke te raak by ons sendingbediening, deur middel van jou Geloofsoffer, vul asb die Geloofsoffer belofte vorm in.
Kontakbesonderhede
Deon Delport – 081 487 3374
Bankbesonderhede
Ng Witbank-Klipfontein Sending
Bank: ABSA Tjekrekening
Rekeningnommer: 1360 150 387
Saadbediening / Ogies
Ongeveer vier jaar gelede het die NG Kerk op Ogies sy deure gesluit en die gemeente het by Witbank Suid ingeskakel. Deur verskeie wonderwerke, is Basileia Gemeente instaat gestel om die kerkgebou met alle buitegeboue aan te koop.
Tans huisves die perseel een van ons kinderhuise en daar word groente verbou vir die kinderhuise. Die kerkgebou word uitverhuur en die saal tot beskikking van die gemeenskap daargestel.
Ons noem dit die saadprojek en dit is ‘n ten volle geloofsbediening.
Dra gerus by tot daardie projek deur middel van die Dankofferrekening.
Bankbesonderhede
Bank: ABSA Tjekrekening Rekeningnommer: 1360 5800 20 Verwysing: Saadprojek
Finansies
Doel van die Bediening
Die Finansies bediening hanteer die oorsig van die bestuur van die gemeente finansies volgens algemene rekenkundige praktyk. Toesig word gehou oor elke bediening se begroting en die algemene begroting van die gemeente,en alle inkomstes en uitgawes word bestuur.
Dankoffers
Ons gemeente se skeppingsdoel is om te kan gee sodat ons weer kan weggee. Elke lidmaat is verantwoordelik om self sy/haar Dankoffer in te betaal, of in te gee by die kerk. Elke bediening het fondse nodig om te kan voortbestaan en dit kom net van lidmate af wat getrou gee.
Hoe om jou Dankoffer / Ander Gelde te Gee
Gelde kan tydens kantoorure by die kerkkantoor inbetaal word, waarna daar ‘n kwitansie uitgereik sal word. Versoek asseblief deurentyd ‘n kwitansie om die beheer van kontant fondse te vergemaklik. Kaart transaksies word ook deur die die kerkkantoor hanteer en EFT oorbetalings word verwelkom.
Hoe om te Verseker dat Gelde vir ‘n Spesifieke Projek Aangewend Word
Indien jy vir ‘n spesifieke projek gelde wil gee, dien die projek se naam as ons verwysing.
Hoe om Betrokke te Raak
Enigeen wat betrokke wil raak by die bediening moet asseblief die bedieningsleier of vir Adri Lenting in die kerkkantoor skakel.
Kontakbesonderhede
Bedieningsleier: Henry Pearson – 082 927 7409
Finansiële beampte: Adri Lenting – 013 697 4449
Bankbesonderhede
Bank: ABSA Tjekrekening Rekeningnommer: 1360 5800 20
Nood & Armoede (Rizpah / springvalley / Edenpark)
Doel van die Bediening
Die Nood-en-Armoedebediening van die gemeente is ‘n bediening wat grootendeels op die na-buite visie van die gemeente fokus. Deur ‘n betrokkenheid by die nood van die stad wil die bediening God se hande en voete wees in die verligting van nood en seer waar dit ons pad kruis.
So is ons by vele projekte betrokke, waarvan die uitdagendste, die Rizpah hulparm is. In samewerking met die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) is daar ’n interkerklike aksie gestig, wat vrouens gebruik om te help met die dag tot dag versorging van die kinders in die huise.
Hierdie bediening vorm een van die ankerpunte van ons gemeente. Dit onderskryf ons waarde van diensbaarheid.
Hoe om Betrokke te Raak
Daar is deurlopend deur die jaar verskeie geleenthede waarby jy betrokke kan raak. Dit word grotendeels by ons eredienste aangekondig en jy word genooi om deel te wees. Indien jy by enige van die bogenoemde projekte wil betrokke raak, of indien jy by die projekspan wil inskakel, wat die bediening beplan en implimenteer in die gemeente, kontak gerus vir Erika Visagie by die Rizpah bediening.
Kontakbesonderhede
Erika Visagie – 072 740 1424 Markus Visagie – 0792914675
Bankbesonderhede
Rizpah Ministry NPO
Bank: FNB Tjekrekening
Rekeningnommer: 628 9989 7973
Voedselprojek
Doel van die Bediening
Hierdie bediening is die verrigting van Galasiërs 6:2, “Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee so uitvoering aan die wet van Christus.” Ons doel is om liefde, barmhartigheid en omgee in ons gemeenskap uit te leef.
’n Groep lidmate kom maandeliks byeen en verpak die kos/kruideniersware pakkies. Die begunstigdes van hierdie bediening is gesinne en individue, wat krisistye beleef en waarlik afhanklik is van die kos/kruideniersware wat ons aan hulle voorsien.
Hoe om Betrokke te Raak
Sluit aan by die span wat maandeliks die kos moet verpak. Maak skenkings vir die kos/kruideniersware en kontak gerus met die bedieningsleier om uit te vind wat jy kan skenk. Maak maandeliks ’n finansiële bydrae by die kerkkantoor, of betaal direk in die Voedselprojek bankrekening in, met die verwysing: “Voedselprojek.”
Hoe om Hulp by die Voedselbediening te Kry
Indien jy of jou gesin finansieel deur ’n moeilike tyd gaan, of indien jy iemand ken wat hulp benodig, kan die bediening gekontak word vir hulpverlening. Ons is ook sensitief met betrekking tot privaatheid.
Kontakbesonderhede
Basileia Gemeente Kerkkantoor -0136974449 Anita Naude – 073 828 3911
Bankbesonderhede
Ng Witbank-Klipfontein
Bank: ABSA Tjekrekening
Bankrekeningnommer: 935 012 7082 Verwysing: Voedselprojek
Volwasse Belydenis van Geloof
Mense wonder dikwels of hulle saak met die Here reg is en hoe dit reggemaak kan word. Hierdie is ‘n geleentheid waar jy ernstig met iemand oor jou eie geloofsekerheid en persoonlike verhouding met Jesus kan gesels.
Dit is ‘n een-tot-een geleentheid, waar jy alleen, met iemand oor die verloop van ‘n paar weke kan gesels.
Sou jy hierin belangstel om as volwassene (naskool) belydenis van jou geloof in die gemeente aftelê en so ‘n lidmaat van ons gemeente te word, voltooi en stuur die vorm vir ons.
Kontakbesonderhede
Basileia Gemeente Kerkkantoor – 013 697 4449
Stadsbediening (Fraternal / Kinderhuise)
Doel van die Bediening
Ons is ‘n gemeente met ‘n sterk stadsvisie. Ons glo dat ons deur God, vir ‘n tyd soos hierdie, hier geplaas is. Ons glo dat jy werk waar jy moet werk en dat God jou daar geplaas het met ‘n opdrag en dit is om die markplein bedienaar daar te wees.
Daarom bemagtig ons van tyd tot tyd alle lidmate. Jy moet weet dat waar jy is, jy moet bid dat God se koninkryk daar sal kom, waar jy beweeg in ons stad, jy vrede moet bid en spreek.
Derhalwe het die gemeente ingewillig om elke maand se oorskot in die stad in te saai. hetsy in bestaande projekte waarmee iemand die stad dien, of daar waar ons self die Here vertrou vir ‘n projek waarby ons betrokke kan raak.
Baie van ons bedieninge het ‘n stadsfokus, van die kinders tot by die “onder-100” bediening. Hierdie is ook die rede vir ons kinderhuise wat uit en uit ‘n stadsprojek is.
Ons leraars is aktief betrokke by die Witbank Fraternal en beywer hulle daar vir die totstandkoming van ‘n groter eenheid tussen die verskillende christen kerke.
Ons stad is God se stad! Ons praat dit, leef dit, bid dit en doen dit!
Hoe om Betrokke te Raak
Indien u by die kinderhuise betrokke wil raak, kontak vir Erika Visagie – 072 740 1424
Indien u by van ons ander stadsbedieninge betrokke wil raak, skakel vir Ds. Louis Cloete – 084 512 8207
Eredienstye
Instapdiens
Sondagoggend: 08h30
Aanlyndiens
Sondagoggend: 8h30 - Facebook en Youtube
Kleuter/Kinder & Tienerbedieningstye:
Kleuterbediening (3 - 6 JAAR)
Sondagoggend: 8h30 - Voor diens na die kleuterlokaal
Kinderbediening (Gr 1 – 6)
Sondagoggend: 8h30 - Eers in die diens, en dan uit na die saal
Tienerbediening (Gr 7 – 11)
Sondagmiddag: 16h00 tot 18h00 - In die koffiekamer
KONTAK
Kontaknommer
013-697 4449 / 068 012 6333
Epos
kerk@bgkerk.co.za
Gemeente Whatsapp
068 012 6333
Ds. LPJ (Louis) Cloete
084 512 8207
Ds. AM (Marius) Nel
082 327 7425
Adres
Hans Strydomlaan 70, Emalahleni