Ek wil vandag sommer net bietjie met jou gesels oor die broosheid van die lewe. In my besig wees met die gemeente en besoeke, besef ek net dat ons almal lewe met geleende, of kom ons noem dit, genadetyd.
Mense wat ‘n jaar gelede nog met ons was, gesond en vol planne vir die lewe is vandag nie meer met ons nie. Skielik op ‘n dag het hulle net opgestaan, nie lekker gevoel nie, en binne ‘n paar maande ernstig siek geword en gesterf. Die lewe is broos en kort en dit het my baie laat nadink oor my eie lewe, en dit wat ek waarneem op straat.
Ons gun onsself geluk, vir ander mense geluk, en dat almal gelukkig en met vreugde, die lewe wat ons elke dag ontvang moet lewe. So is dit ook met my – ek weet nie wat hou die toekoms vir my in nie. Ek kan dalk ook môre nuus kry wat my lewenskwaliteit erg kan benadeel.
Ek wil as kind van die Here ook my lewe in vreugde en vrede lewe. Jy wil ook, en ek dink nie vir een oomblik dat ons dit nie mag doen nie. Die vrug van die Heilige Gees bevestig dit, Jesus sê dat Hy gekom het dat ons die lewe kan hê, en die lewe in sy volheid – Johannes10:10.
Die probleem kom in by dat ons so meegesleur word deur ons omstandighede, of deur mense se opinies, of deur ons eie opinies oor wat ander mag en nie mag nie, dat die sorge, die bekommernisse, en ons soeke na welvaart ons vreugde steel.
Ons ry so wipplank in die lewe – die eendag so, en die ander dag sus. Ons dobber rond soos ‘n bootjie in die see want heen en weer geslinger word, deur elke brander en dreig om onder te gaan. Daar is min vreugde by ons en in die samelewing. Min van ons het ‘n innerlike vreugde wat oorborrel en aansteeklik is, en die wêreld rondom ons verf met kleurryke skakerings.
Ek lees een van die kortste Psalms, Psalm 131, waar die Psalmskrywer sê dat hy nie hoogmoedig is of trots nie, dat Hy hom nie bekommer oor dinge wat te moeilik is of wat hy nie kan verstaan nie, dat hy rus vind by God, soos ‘n kind by sy moeder, en dat sy hoop altyd in God is. Hy is afhanklik van God. In daardie kort Psalm kry ek een van die sleutels vir ons daaglikse bestaan…afhanklikheid, spesifiek afhanklikheid van God.

Lewe eenvoudig en met dankbaarheid elke dag. Lewe in die oomblik en moet jou nie so bekommer oor dinge wat te moeilik is en waaraan jy in elke geval niks kan doen nie. Rus in Hom en vind jou vrede vir elke dag in Hom – in Hom is ons hoop.
Maak die keuse om die lewe wat God jou gee elke dag te geniet en nie om ander mense s’n, namens hulle te wil lewe, of vir hulle voor te skryf oor wat hulle moet doen nie. Neem eienaarskap van jou eie geluk, in afhanklikheid van die lewe wat God elke dag vir jou gee.
Ek kon dit so kies in hierdie tydstip van my lewe. Lewe voluit en geniet die lewe wat jy elke dag ontvang. Hy kom nie altyd in die verpakking wat ons verwag nie, maar kies reg.
Lewe die lewe, en sien wat terugkom na jou toe.