Ek het in die verlede dikwels ou brood weggegooi, tot op ‘n dag wat ons huishulp vir my gevra het of sy dit kan kry. Ek was bietjie onkant gevang, want die brood was nie meer eetbaar gewees nie.

Wat maak jy met die brood?” het ek haar nuuskierig gevra.

Ek gee dit vir ‘n ou-vrou naby my om vir haar hoenders te gee,” was haar antwoord.

Dit het my getref hoe die Here vir sy skepping sorg sonder dat mens eers elke dag daarvan bewus is. Van daardie dag af gooi ek nie meer ou-brood weg nie. Ek sit dit op die muur vir die voëls en duiwe om te kom eet. Elke keer as ek dit op die muur sit, kom eet hulle dit op, en sien ek voor my eie oë hoe die Here Matteus 6:26-27 waarmaak.

Ek het nog nooit ‘n mossie of ‘n duif met ‘n rugsakkie op die rug gesien kos bymekaar maak vir die onbekende dag van môre nie. Die Here sorg een dag op ‘n slag vir hulle. Hoeveel meer werd is ons nie vir Hom as die mossies en duiwe en die voëls van die veld nie?

Duiwe is vir my seker een van die mooiste voëls op aarde. Hulle is so algemeen en smelt so saam met die omgewing dat ons hulle amper nie eens raaksien nie. Hulle word dikwels ‘n las wanneer hulle orals nes wil maak en op ons stoepe mors. Maar besef jy dat die Bybel ongeveer 47 keer (1983 Nuwe Vertaling) na duiwe verwys.

Seker dié bekendste vers tref ons in Matteus 10:16 aan waar Jesus sy 12 dissipels uitstuur met die woorde, “… wees versigtig soos slange en opreg (skadeloos/onskuldig) soos duiwe.”

Wanneer die skrywer van Psalm 55:7 deur ‘n bitter moeilike tyd en ook onbekende toekoms in sy lewe gaan, verwys hy weer na ‘n duif. Hierdie keer sug hy sy hart uit met die woorde: “… Ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek wegvlieg en wegbly.” (1953 Afrikaanse vertaling).

Die eerste helfte van die jaar is verby en dalk eggo hierdie woorde ook in jou hart, en wens jy dat jy sommer net iewers heen kan wegvlieg. Ek het opnuut besef dat die onbekende, en dikwels vreesaanjaende, van die toekoms nie draagbaar en hanteerbaar word omdat ek presies weet hoe dit gaan uitloop nie. Die rustigheid en kalmte lê eerder in WIE SAAM MY in die HEDE en vandag is, en WIE vir my SORG!

Elke keer as ek ‘n mossie of ‘n duif sien, raak ek rustig in die wete dat Hy soveel meer vir my omgee as vir die voëls van die veld, en elke dag op ‘n slag vir my ook sal sorg.

Wat dink jy as jy ‘n mossie of ‘n duif iewers sien ….