Ek luister die ander dag na ‘n praatjie wat handel oor die voorspellings van die nuwe modegiere vir 2022. Die modekenner maak toe die opmerking dat hy dink wyer en lospassende klere gaan die mode wees omdat hy dink dat hierdie styl – gegewe die sosiale afstand wat mense as gevolg van Covid moet handhaaf – veiliger afstand tussen mense bring. Hy wys toe daarop dat dit dan ook die rede vir die hoepels in die rokke van die outyd was. Verder sê hy toe dat ons in sulke onvoorspelbare tye leef dat dit ook ‘n heeltemal verkeerde voorspelling kan wees. Die nuwe opkomende jongmense distansieer hulle juis weer van style en neigings van vorige generasies en eras. Hy kom toe tot die gevolgtrekking dat hy geen voorspelling wil waag nie, maar eerder wil kyk wat gaan gebeur.

Ons het ‘n nuwe webblad!! Wanneer jy hierdie stukkie lees, sal jy sien Basileia gemeente het simbolies beslis nuwe kleure en “klere” aangetrek. Nuwe klere kommunikeer nuwe seisoene en ‘n opgewondenheid en energie vir nuwe dinge. Wanneer ek nuwe klere aantrek, voel ek sommer lekker en lus vir nuwe uitdagings. Basileia is op die drumpel van nuwe dinge. Ons is nou vir amper 24 maande vuisvoos van die Korona-virus en nuwe energie en ‘n uitreik met hoop is ons visie. Ons nuwe webblad kommunikeer juis nuwe lewe en energie. Ek hoop jy sal sommer gou tuis wees op ons blad en alles wat jy nodig het hier kry.

Paulus herinner ons in Kolossense 3:10, soos die BOODSKAP vertaling dit gee, dat God vir jou geestelik ook ‘n nuwe stel klere in Jesus Christus gegee het. Hierdie klere maak jou heeltemal nuut. Dit bring jou ook al hoe nader aan God en die doel waarvoor God jou gemaak het.

Mag ons nie net in ons kleure, logo en webblad nuwe verandering sien nie. Mag elkeen van ons in Basileia familie hierdie nuwe stel klere wat ons in Jesus ontvang het met trots en vrymoedigheid in 2022 dra sodat ander ook sal kies om daardie klere deel van hulle lewe te maak.

Groete,

Ds. Marius