Ek ken iemand wat maklik iets kan weggee. Kos, ‘n sitplek, ‘n plek in ‘n lang ry, hulle tyd en hulp… en so kan ek aanhou, en aanhou. Dit pla my soms as ek dit aanskou, maar dit is opvallend dat daardie persoon ‘n stuk vreugde daaruit kry, wat ek nie aldag lekker verstaan en begryp nie.
Ek was die ander dag in die bank om oor ‘n studielening navraag te doen. Dit verg enorme papierwerk voordat jy die geld in jou rekening ontvang. Die lening help jou beslis, maar die terugbetaling daarvan, is ‘n uitdaging op sy eie. Ek dink aan Spreuke 19:17 waar daar ook van ‘n lening gepraat word. Hierdie is egter ‘n lening van ‘n heeltemal ander aard.
Lees gou hier… “Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” ‘n Banklening is iets wat die persoon wat dit aangegaan het moet terugbetaal…met rente. Maar die lening waarvan die Bybel hier praat is nie iets wat die mens moet terugbetaal nie, dit is iets wat die Here aan die mens sal vergoed.
Hier is ‘n Bybelse waarheid waarvoor ek my ore moet spits. Wanneer jy van jouself, of van jou goed, vir iemand anders weggee, sê die Hebreeuse woord hier, ontstaan daar ‘n verbintenis tussen die Here en jouself. ‘n Verbintenis wat die Here sal eer en die gewer ten volle voor sal vergoed. Ek besef alte goed dat dit nie hier oor ‘n iets-vir-iets tussen die mens en God gaan nie, maar eerder oor ‘n teruggee van die Here se kant af wat ons nie altyd tussen ons vingers kan vashou nie, maar op ‘n baie dieper vlak lê.
Om te gee is ‘n wesenlike deel van menswees. Om van jouself, of iets van jouself weg te gee, is ‘n deel van die Here self wat Hy in die mens belê het. Wanneer ons gee en besef dat dit na iemand anders as onsself gaan, is dit ‘n hupstoot in ons doelgerigtheid en selfwaarde. Elke mens het ‘n inherente begeerte om ‘n positiewe verskil deur ons lewe en dade te maak. Wanneer jy vir ander in nood gee, is jy besig met iets groter as net jouself – jy is in God se Koninkryk en met Sy Koninkryk besig! Jy is met ‘n lening aan die Here besig.
Deur te gee verbind ons onsself aan ‘n eeue oue Bybelse gebruik, en ook aan ander gelowiges reg oor die wêreld, wat gee vir ‘n groter saak as hulleself. Wanneer ons voel dat ons deur die moderne samelewing gedreineer en ingesluk word, verbind ons gee ons, aan ‘n Bybelse perspektief. Ons gee verbind ons ook aan al die volgelinge van Jesus, wat baie deur hulle gee opgeoffer het om die geloof aan ‘n volgende geslag oor te dra.
Terwyl ons hard werk om vir onsself te voorsien, verseker ons gee ons dat ons ook werk om God se koninkryk te bevorder elke keer wanneer ons iets vir ‘n ander gee. Wanneer ek met wysheid en onderskeiding vir ‘n ander gee, gee ek ‘n lening aan Here en sê die Bybel dat Hy dit ten volle sal vergoed!
Dink bietjie verder hieroor na… wat hoor jy?
Ds Marius