Ons lewe in onstuimige tye. Ek dink nie dit is weg te redeneer nie. Hierdie geliefde land van ons gaan deur baie moeilike tye. Ek dink ons ervaar so baie innerlike spanning oor wat ons rondom ons waarneem, en dan stuur iemand nog ‘n boodskap om van hoe goed dit nou gaan in Rwanda in Midde Afrika.

Dan is daar ‘n versugting in my hart, “Wanneer Here, gaan die gety draai hier in Suid Afrika?” Ek lees dinge, hoor dinge, en selfs somtyds, praat dinge oor ons situasie en land wat ek agterna vir die Here om verskoning voor moet vra. Dit voel vir my sommige dae of my hoop en moed dun is vir die toekoms.

Ek sien in die Bybel die Jode se belewenis van hulle omstandighede tydens die ballingskap. Sommige dae voel ek soos ‘n banneling in my eie land. Somtyds voel dit vir my ek bly in ‘n vreemde land. In sulke tye roep ek na die Here en vra ek Heilige Gees om met my te praat vanuit die Woord, en hoe getrou is Hy nie.

Dit is asof Hy my hand vat en blaai na Esegiël 37 verse 1-15. Wanneer ek dit lees, dan hoor ek God se verstaan van my versugtinge. Sy verstaan van hoe ek voel en ek hoor Sy sagte lyding en opdragte aan my, “Mensekind, kan hierdie bene (wat jy in die laagte sien) weer lewende mense word?”

Dit is die vraag wat Hy vir my vra te midde van my onstuimige gemoed oor my land. Dan lees ek verder en sien ek , hoor ek en ervaar ek hoe herstel en genesing plaasvind en dan wil ek vra, “Hoe lank nog Here?” Ek hoor Hom praat oor ons land, ons omstandighede. Dan vat Hy my aan die hand en laat my sekere sinnetjies hier in Esegiël 37 vers 4 sien, “Hy sê toe vir my: “Profeteer vir hierdie bene en sê…”

Ek hoor Hom sê, “Louis, My kind, spreek woorde van lewe oor jou land en nie woorde van ongeduld en misnoë en ongeduld en moedeloosheid en hopeloosheid nie. Woorde van lewe…Woorde van herstel…Woorde wat roep: Draai terug na die Here…” Hy laat my lees in vers 9: “Praat (jy) met die wind….Blaas jy oor hierdie dooie liggame sodat hulle lewend gaan word… “

Ek het ‘n verantwoordelik om myself tot beskikking van die Here te stel, sodat Hy deur my, lewe kan spreek. Ek besef ek moet sê, “Hier is ek Here, gebruik my.” Dit is ‘n proses van herstel en nuwe lewe. Hy herinner my aan Sy woorde van die ballinge in Babel, “Ek weet wat ek vir julle beplan, die goeie en nie die slegte nie.”

Sommige dae voel ek om vir die Here te sê soos in vers 11b, “Daar is geen hoop vir ons (my) oor nie!” Dan hoor ek Sy stem, “Ek maak die grafte van ballingskap oop en laat julle (jou) opstaan. Ek sit My Gees in julle (jou) en julle (jy) sal lewe en terugkeer huistoe…”

Kom ons trap voetspore van hoop en lewe, van vertroue en herstel in ons land.

Aan God al die eer.