Ek het so gesit by die voete van die Here en Heilige Gees vertrou om in my hart vir my te sê waaroor ek moet skryf. Wagtend op die stem van Heilige Gees sit ek…. Hy vat my toe aan die hand en sê, “Skryf oor die tye van jou lewe waar jy nie ‘OK’ gevoel het nie.”
Ons het almal sulke tye, meer of minder. Dae wat ek net nie voel ek is goed genoeg nie. Dae wat ek myself meet aan ander, aan sukses, aan doelwitte bereik, aan drome wat ek gehad het en moes opgee. Dae wat ek wonder wat my nalatenskap eendag gaan wees. Gaan mense op my begrafnis die mooi van my onthou en die slegte vergeet? Gaan daar iets op my grafsteen staan van waarde, of dalk net, ‘Die graf van ‘n eensame?’ Dae wat die lewe gebeur en waar ek in ‘n boek lees, ‘Life does not turn out the way it ‘should”, ‘Life does not turn out the way it ‘shouldn’t,” en ‘Life turns out the way it ‘does.”
Ek vind myself pens en pootjies binne in die verhaal van Moses. Ek het dalk nie iemand fisies vermoor nie, maar ek moes ook al vlug, weg van my foute na ‘n vreemde land. Soos wat sy ware menswees uitgekom het daar in Egipte, so het my menswees my ook al in die skande gebring. Toe vlug ek…maar ek kan nie van dit wegvlug nie.
Daar in die woestyn, daar waar ek wil vergeet van gister se foute, daar vind die Here my weer by die brandende bos. Daar het Hy my opnuut vertel, nie met die woorde aan Moses nie, maar met die kruiswoorde, sterfwoorde en opstandingswoorde van Sy enigste Seun, wie Hy is en wie ek is, en dat Hy bereid was om vir my die hoogste prys te betaal ongeag…
En dan worstel ek soos Moses, “Maar wie is ek dan…” Ek sien myself nie altyd as bruikbaar voor die Here nie. Ek praat so dikwels van ‘maar’, en ontdek dat Hy, my Vader, nie daardie woord in Sy woordeskat het oor my nie. Dan praat Hy met my, “Ek is by jou, jy is ‘OK’,” en dan stribbel ek teë. As ek by mense kom, wat sal hulle sê? Hulle weet van my, ken my, en ek is nie altyd so waardevol in hulle oë nie. Hulle sou my waarskynlik nie gekies het nie, want ek praat nie eers vloeiend en met skrander woorde nie. Ek sukkel om my uit te druk. My woorde getuig nie altyd van wysheid nie, somtyds stamel ek….
Dit is asof Moses oor my praat, in die dae wat ek nie nuttig voel in God se koninkryk nie, dan wonder ek of hulle , my mense, my sal glo? Hulle sal waarskynlik nie, maar my Vader is getrou, want in my geloofskas is daar ook ‘n stok wat ‘n slang geword het, ‘n slang wat stok geword het, ‘n melaatse hand en ‘n gesonde hand. ‘n Wonderwerk of twee waarmee God my bederf het net om vir my te sê, “Vir My is jy ‘OK’! Moet dit nie vergeet nie.”
Ek voel sommige dae net nie goed genoeg nie. Ek dink dat Vader Hom ook sommige dae vir my verskonings en min dink van myself, vererg.
“Loop, gaan maak soos wat Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê,” en dan gee Vader vir Hom hulp.
Help my Here om die hulp wat U my gee raak te sien. Dan gebruik Hy Moses, ongeag, en dan gebruik Hy my, ongeag!
Ek wil die Here loof en nie een van Sy weldade aan my vergeet nie.
VIR HOM IS EK (EN JY) ‘OK’!
Die Here laat jou baie goed praat,Louis! Ons luister graag wat Hy deur jou sê.